Dear family and friends!!! We are blessed - we had a great work life and now enjoy our travels which reflect our new lifestyle. Ons is werklik begenadig. Our family love hearing about our adventures, our friends join us when possible, and we always share the joy of Christ with others. Dis veral lekker as ons "comments" kry. Love you all!!

Tuesday, May 4, 2010

2010.04.24 - 2010.05.04 Santiago na Finisterra na Muxia (+-131km)


Liewe mense!

Ons het na drie nagte se slaap by Monte do Gozo net buite Santiago de Compostella, weer die pad aangedurf om die volgende 97km na Finisterra te stap. Dis ´n tweede compostella wat pelgrims kry as hulle die afstand stap na die ëinde van die we^reld¨- dis wat Finis-terra beteken. Die middeleeuse mense het geglo dat die dooies se siele in die see verdwyn saam met die son wat sak en het gekom om die doderyk te aanbid by die einde van die we^reld.

2010.04.24 Saterdag
Monte de Gozo / Santiago na Negreira
17km

 Ons haal die bus na Santiago en op die groot plein voor die Santiago katedraal neem twee Hollanders, Ham en Madeleine van ons ´n foto - hoop julle kan ons sien?








Ons vind die pad na Finisterre - een enkele naambordjie en baie van die gebruiklike skulptekens.

Ons stap deur woude en baie opdraand, maar die mooiste is die uitsig terug oor Santiago met die twee torings van die katedraal op die horison.

Baie opdraandes en die skulpmotief word op vele manier gebruik - ook as versierings by die hekke.

Uiteindelik kom ons by die dorpie uit waar ons beplan het om te bly maar als is toe - gelukkig kom ´n jong man by ons uit wat aanbied om ons na sy gesinshuis te neem wat hy en sy broer bedryf as gastehuis - ons klim in en kom uit by ´n lieflike landelike huis.

Hulle gee ook vir ons ´n heerlike ete. Ons het tot laat kuier saam met ander mense wat ons ook langs die pad ontmoet het - dis ´n Spanjaard met sy Ierse vrou (nou geskei?!?!), ´n Ierse meisie met haar Engelse vriend en ons.

2010.04.25 Sondag
Negreira/Logrosa na Vilaserio
16km

Ons eet ´n heerlike ontbyt. Begin stap teen 10vm - woude en bergop. Ook deur Negreira self waar Mrad die geleenthied benut om op die Sondagmark rond te snuffel. Hyś die man met die laphoed en die blou baadjie.

Naby een van die ander dorpies is ´n boervrou besig om die gesin se wasgoed te was - koue water wat invloei in die trog en voortdurend skoon is omdat dit dat na die wasproses weer anderkant uitloop - baie effektief!


Teen ´n bergpad stap hierdie boervrou by ons verby - ons gesels land-aan-sand - geen idee waaroor nie, maar dis ´n goeie gesprek wat ons albei geniet.

Dis nie altyd losklippe-pad nie, wat bergop gaan nie - soms loop ons ook op teerpad wat ook ´n goeie afwisseling is vir  mens se voete.

Die aand kom ons uiteindelik in Vilaserio aan en slaap in die meeees basiese albergue wat ons nog gekry het - net ´n matras op die vloer!! Darem warm storte. Ons eet by die ¨bar¨wat 400m daarvandaan is en dis heerlik gesellig - ons is 7 wat daardie aand in die albergue slaap.

2010.04.26 Maandag
Vilaserio na Olveiroa
22km

Stap reed teen 8vm. Kyk net hoe mistig is dit in die vallei waaruit ons opgestap het - sien jy die kerktoring?
Ek dink dis die mooiste foto ...


Eet ontbyt langs die pad - dis ´n pragtige dag en ons geniet alles besonder baie. ´n Mede-pelgrim neem die foto van ons.


Ons stap so hoog op in die berge dat ons naby aan die reuse windmeule verbystap wat gebruik word om krag op te wek.
 Hulle is sekerlik 3 verdiepings hoog!



Die herberg in Olveiroa is pragtig. En omdat ons so vroeg begin stap het en onsself so goed ge-¨pace¨ het, was dit ´n heerlike dag se stap.


Die aand kuier ons tog te heerlik met ´n ou bekende pelgrim en ´n nuwe een - dis verstommend met hoeveel seer-probleme mense stap en hoe maklik dit is om verliese/teleurstelling met mense te deel wie mens nooit weer gaan sien nie. Ons glo dis die doel van die Camino.



2010.04.27  Dinsdag
Olveiroa na San Rogue/Cee
19km

Stap steeds die oggend opdraande - en ons het gedink dat ons uit Santiago na die kus afdraande sal stap??? Maar volgens die mense met profielkaarte is die einde van die opdraendes darem in sig.



Ons eet ontbyt by die laaste ¨bar¨vir die volgende 15km - eet lekker en drink natuurlik die gebruiklike cafe con letche!







Hierdie ¨horreos¨/ graanstore is tipies van die omgewing. Die pote lyk nes paddastoele!!! Maar dis graniet.


 
Dis ons koei-dag. Soms hou die koeitrop die groot melktenkers op en ander kere moet ´n trekker padgee. In hierdie foto is dit ouma, oupa en kleinseun (op sy driewiel) wat die trop Vrieskoeie aanjaag - die kleintjie het net so ´n groot brulstem soos sy oupa!

Ek pak maar die gebruiklike klippie op die stapel
 want dis deel van die gees van die camino om op so ń sigbare wyse dank uit te spreek vir ń dag se veilige stap en aankoms by ń veilige rusplek.


En Alberto is die wonderlikste hospitalero wat die aand vir ons ´n lekker ete voorsit met baie wyn. Pragtige klassieke musiek speel en na ete lekker dansmusiek wat die jongklomp wat saam met ons daar is baie geniet. Hy´t werklik ´n hart vir pelgrims.


2010.04.28 - Woensdag
Dag 5 op Santiago na Finisterre en Muxia camino
14.5km San Rogue na Finsterre


Eet almal saam onder Alberto se wakende oog ontbyt - groet, stap. Meestal bergop maar die uitsig oor die see maak op vir die opdraande. Mrad en ek praat om die beurt diepdinge met ń Duitse meisie wie se ma 9 weke terug dood is na ń katastrofiese lewensstyl - en 5 kinders moet nou met hulle lewens aangaan. Maar omdat die omgewing so mooi is, is die swaardinge praat nie moeilik nie.


 
Ons sien weer die see nadat ons lank bo-op berge geloop het en die stad Cee [gebruik die Engelse woord think se "th"om die c-klank te vervang!!!] word onder in die baai sigbaar - baie mooi.


Toe ons onder op die strand begin stap, hoor ons ń stemmetjie roep - dis Andree van Quebec - ons het haar +-400km terug leer ken. Ons is ewe-bly om mekaar weer te sien!!


Ons staan tou vir die Albergue in Fisterre om 1nm oop te maak sodat ons die Compostella de Santiago-Fisterre kan kry. Daarna stap ons na Casa Miguel - baie gawe mense.


Ons stap na Meson Pirates vir die beste seekos in Fisterre. Van dit is vreemd, maar als is lekker. Sien jy agter in die bord die lang vingernaels - dis navajos.


 
Maar ons moet nog na die faro/ligtoring gaan by Cabo Fisterre - ons stap die laaste 3km in die semi-donkerte. Dit begin reen, maar ons gaan voort. Van die sonsondergang wat 21:30 sou plaasgevind het is daar geen sprake nie.


 
Ons kry 2 ander pelgrims daar wat vir ons ń botteltjie sjampanje in die gietende reen aanbied om die einde van die staptog te vier!! Lekker - dis die Camino gees!

2010.04.29 Donderdag
Dag 6
Drentel in Finisterre rond


Slaap laat en gaan na die dorpie om poskaarte te koop, skryf en vis te soek vir aandete - dit moet vars vis wees!


Mrad oortuig ń visserman wat pas met sy boot in die hawe geanker het om 7 klein vissies en een reuse-groot vis aan hom te verkoop - ń winskopie. 

Die aand nooi ons die mense wat ons ken, asook Miguel en Juliana die eienaars van Casa Miguel, om almal saam te eet. En almal begin saamwerk om slaai, chips, vis, sop en vrugteslaai voor te sit vir aandete. 





 
Juliana en Miguel het ń gebruik om "tafel" op die vloer te dek. Almal sit in ń sirkel, om hande te neem en vir almal die geleentheid te gee om die impak van die Camino-stap op hulle lewens met mekaar te deel. Daar was heelwat trane en diep gesprekke daarna. So kon ons ook ons geloof met die ander deel.

2010.04.30 Vrydag
Dag 7 Fisterre na Lires oppad na Muxia
14km

Nou begin ons met ons 3e Compostella - dis die laaste 31km van Fisterre na Muxia. Ons begin baie laat stap - daar was ń funksionele internet wat ek net eers moes gebruik. 


 
Die pad is nie goed aangedui nie, maar almal is gewillig om te help/beduie waar ons moet stap. Die skulpe wys meestal na onder omdat die roete in albei rigtings geloop word. Maar dan weet mens darem jy`s op die regte pad.



 
Die omgewing is landelik met klein dorpies hier en daar - werklik rustig (behalwe vir die mense wat werk!?!?)

Hierdie heining was vir ons uitsonderlik mooi. Dink dis Tea-tree-struike?

Vind uiteindelik die dorpie waar ons besluit het om te oornag. Hulle klein kerkie is mooi en behou die geestelike diepte wat mens in kerke graag wil voel. Hierdie is 3 figure naby die altaar.






En hierdie is grafte (1939 / 1942) waarop mens loop om in die kerk in te stap. Nogal grillerig.



Lires se enigste ¨bar¨ is ook die enigste slaapplek: As Eires. Ons eet ook in die kroeg en kyk hoe oud en jonk van die dorpie saamkuier.

2010.05.01 Saterdag/Werkersdag/vakansiedag!!
Dag 8 Lires na Muxia
19.5km


Teen 9vm oppad. Die plaaslike mense beduie vir ons dat die water oor die rivier is te hoog - ons moet asb om die rivier stap. Ons doen dit (al is dit ń ekstra 2.5km!) - maar die pad is mooi en ons kom uiteindelik aan in Frixe waar ons cafe con letche drink. 

Die hele omgewing se mense is daar vir ń diens in die plaaslike kerk. Daarna vind ons die camino ¨real¨ wat deur plase en klein dorpies kronkel - meestal bergop. En dit gee vir ons die mooiste uitsig oor die valleie en neem ons verby hierdie fontein (links op die foto) en die kruis wat as rusplek dien.


Ons eet middagete langs die pad. Ja - ek weet - die broodjie is groot genoeg om `n seekoei-hap te wees!! Slaai, salami, pan (brood) ... mmmm ...

En langs die pad kry Inge aanmoediging van Mrad op `n heel sigbare wyse. Tog te oulik!!!

Heelwat verder kry ons Playo de Lourida - dis ń pragtige baai waar ons selfs dolfyne sien. Muxia (in Galego - die plaaslike taal - word die x as ń sch-klank uitgespreek) is omtrent 2km verder. Kyk net die groentetuine regs langs die see.

Na ń steil pad kom ons by die albergue aan - kry ons 3e Compostella - die een van Fisterre-Muxia.


Ons bel Judy en Florentino (hulle was in Castrojeriz ons hospitalleros) en ontmoet hulle 7nm by die Santuario de Nuestra Sra. de la Barca. Kan jy die skepe sien hang in die kerk? Die legende is dat die Virgen Maria  na Galicia geseil het in ñ klipboot om St James/Jakobus met sy prediking te help. Dis jou keuse of jy dit wil glo, of nie ...

 Die plat klippe wat op die strand voor die kerk is die "oorblyfsels" van die Vigen se Barca/boot.

Na die mis/diens gaan ons saam met Judy en Florentino eet by Meson de Prestige. Dis die vissermanne se kuierplek - die kos is heerlik en die aand baie gesellig. Ons is net betyds in die albergue - 22:00 is lights out!

2010.05.02 Sondag
Dag 9 Muxia verken

Vind ń nuwe blyplek dmv Judy - ons het self ons eie kombuis! En ń wasmasjien. 


Loop deur dorpie weer na La Barca - dis kronkelpadjies en klipmure wat sommer spreek van die visserslewe en die koue en wind wat tipies van die dorpie is.

Hierdie suil is naby La Barca opgerig - dis enorm.

En Mrad kruip onderdeur die platklip voor die kerk (spesifiek vir ruggenesing) - dalk werk dit werklik??
Vir aandete maak ons ń pasta+broccoli+sampioene+ui+knoffel+Philadelphiakaas-dis en braai die rump in skywe met ui en knoffel. Heerlik!! Almal vra: Is dit tipies Afrikaans? Antwoord: Nee - tipies toerkos!!
Omdat ons almal by die vorige siele-deel-ete was, gaan die deelproses voort. Die jong mense hang aan Matthias se lippe om sulke ervarings en gedagtes ryker te word - baie sad en ook sinvol.

2010.05.03 Maandag
Dag 10 Muxia en omgewing verken

Staan weer laat op. Gaan na munisipale mediese kliniek om my voet te laat versorg - ons kry ń afspraak vir 13:28!! Was nog ń bondel wasgoed, hang dit op en gaan na die pelgrimskantoor/toeristekantoor/biblioteek om die gratis internet te gebruik.

Die dokter vertel vir my dat "your foot is suffering because of the way (camino)" en ek kry Betadine - nou sal die bars (= niks ernstigs nie) minder seer wees.


Judy laai ons 5nm op om die omgewing te bekyk - kyk net die ou klopper op `n Middeleeuse kerk se deur.

Ry tot by Faro de Cabo Villano wat nog ń ligtoring is op die Costa da Morta - dit beteken die kus waar die son sterf. Sien jy die tonnel waarmee die mense na die ligtoring gaan want dit kan baie winderig en bitterkoud wees (soos vandag). Judy verdidelik van ń koue trog wat vanaf Ysland via Engeland hierdie deel van Spanje tref maar wat oor 3 dae verby behoort te wees. In Madrid is dit tans -6 grade C!!! Daar is sneeu op die berge by Castrojeriz waar ons hulle eers leer ken het. Ongelooflike weer in Europa - seker ook agv die vulkaan in Finland?

 
Ons sorg dat ons 21:36 by die Virgen de la Barca is om die sonsondergang te sien, maar weer eens is daar wolke en die son sak weg sonder dat ons die dood van die son in die see sien - maar die ervaring bly mooi!!!

2010.05.04 Dinsdag
Dag 11 Muxia na Santiago

Ons pak op - dis nogal moeilik as mens so lank (3 nagte) so lekker op ń plek gebly het.


Oppad na die bus kry ons van die seegras wat in Muxia gedroog word vir medisinale gebruik. 

En loop ons verby die Dinsdag vlooimark wat klere, groente, vleis, kaas, ens verkoop.

Judy kom groet ons 14:15 by die bus (Florentino se rug keil hom steeds op). Verstommend hoe die Camino mense bind!!!

En oppad sien ons hierdie Franse pelgrim wat volgens die inligting wat hy op sy skulp het nou sy 7e Camino voltooi - seker +-7000km?


En die gesamentlike kombuis by Monte de Gozo lewer nog pret op. `n Draadpelgrim vir my en wyn uit `n sak ...

Ons is dankbaar vir die Beskerming wat ons gekry het tydens ons +-750km stap.

Mo^re-oggend ry ons met die bus na Montpellier, Frankryk. 

No comments: